Sedert 2002 word die nasionale kurrikulum toenemend gebruik om waardes aan die volgende geslag oor te dra. Die mate waartoe hierdie waardes inslag vind in jong Suid-Afrikaners word nou duidelik uit die artikulering van die jeug se waardes deur die leier van ’n jeugliga.
Dit laat mense ernstig twyfel aan die sukses van hierdie poging om waardes oor te dra. Noudat dit duidelik word dat die nasionale kurrikulum gefaal het, sal ouers weer self verantwoordelikheid moet neem om toe te sien watter waardes aan hulle kinders oorgedra word.
Waardes in die Hersiene Nasionale Kurrikulum
In 2002 is die Hersiene Nasionale Kurrikulum ingevoer. Een van die grootste verskille tussen hierdie kurrikulum en vorige kurrikulums, is dat dit ’n groter klem plaas op die oordrag van waardes. Die waardes waarop hierdie kurrikulum gebaseer is, is die sg. tien waardes van die grondwet, wat beskryf word in die dokument “Manifesto on Values in Education." ’n Nadere ondersoek het destyds getoon dat die Intergeloof beweging ’n groot rol gespeel het in die keuse en invulling van die waardes.
Die sg. tien waardes van die grondwet wat in die manifes uiteengesit word, is die volgende:
- Demokrasie
- Sosiale geregtigheid en billikheid
- Gelykheid
- Nie-rassigheid en nie-seksisme
- Ubuntu (Menslike waardigheid)
- ’n Oop samelewing
- Verantwoordelikheid
- Die oppergesag van die reg
- Respek
- Versoening
Daar is gehoop dat die invoering van hierdie waardes in die kurrikulum ’n nuwe geslag jong Suid-Afrikaners gaan vorm wat besiel is met die grondwetlike waardes en eendragtig saamwerk aan ’n gemeenskaplike toekoms. ’n Beter lewe vir almal.
Byna tien jaar later, lewe ons nou in die toekoms waaroor die Manifes vir Waardes in Opvoeding destyds gedroom het. Nou raak dit sigbaar hoe hierdie waardes in die praktyk inslag gevind het in jong Suid-Afrikaners. Een persoon wat die waardes van die jong Suid-Afrikaners met gesag kan artikuleer moet die demokraties verkose leier van die jeugliga van die regerende party wees. Die waardes wat deur hierdie jeugverteenwoordiger verkondig word, is “Kill the boer, kill the farmer”, die nasionalisering van myne en banke asook die konfiskering van grond sonder kompensasie.
Die groter klem wat die kurrikulum plaas op waardes, beteken ook dat ’n kleiner klem geplaas word op kennis en vaardighede. Hierdie klemverskuiwing is waarskynlik ’n bydraende faktor daartoe dat Suid-Afrika oor die laaste dekade ’n ernstige tekort aan vaardighede ontwikkel het, tot so ’n mate dat die Departement van Binnelandse Sake vergunnings moet maak dat buitelanders met sekere vaardighede makliker in Suid-Afrika werkpermitte kan kry, terwyl die Suid-Afrikaanse jeug sukkel om werk te kry.
Handves van verantwoordelikhede en etiek in die skole
Alhoewel dit lyk of die invoering van waardes in die kurrikulum eerder lei tot ’n nagmerrie van nasionalisering en konfiskering as ’n droom van eendragtige samewerking, skrik dit politici nie af om voort te gaan om die oordrag van waardes nog verder te voer nie.
In haar 2011 begrotingsrede het die minister van onderwys aangekondig dat die department ’n veldtog gaan loods om leerlinge bewus te maak van ’n Handves van Verantwoordelikhede (A Bill of Responsibilities for the Youth of South Africa). Hierdie handves is opgestel deur die Intergeloof Raad. In ’n toespraak by die Universiteit van die Witwatersrand sê adjunkpresident Mothlanthe dat Suid-Afrika dit moet oorweeg om vakke wat te doen het met etiek in die kurrikulum in te voer.
Wat nou nadat die kurrikulum gefaal het?
Suid-Afrikaanse skole is grotendeels disfunksioneel. As die skole nie funksioneer nie, beteken die kurrikulum en sy waardes niks nie. Tydens ’n besoek aan skole in Tembisa het die minister van basiese onderwys die swak funksionering van skole toegeskryf aan ouers wat nie belangstel in die opvoeding van hulle kinders nie.
In hierdie jaar het Brittanje wakker geskrik toe die waardes van die jeug sigbaar geword het tydens ’n uitbarsting van plundering en konfiskering. As reaksie hierop het die eerste minister gesê : “If we want to have any hope of mending our broken society, family and parenting is where we've got to start.”
Ouers wat instem met die waardes wat in die kurrikulum oorgedra word, sal moet betrokke raak by hulle kinders en dieselfde waardes by die huis uitleef. Ouers wat ongemaklik is met die intergeloof waardes in die kurrikulum, moet eerder oorweeg om hulle kinders in privaatskole te plaas of tuisonderwys te gee, sodat dieselfde waardes by die huis en die skool oorgedra word. As ouers egter nie betrokke is by hulle kinders nie, dan kry die kinders hulle waardes by hulle portuurgroepe of sosiale media of politieke jeugbewegings en die resultaat hiervan mag dalk iets wees waarvan die ouers nie gaan hou nie.