Inligting oor die regstatus van tuisonderwys in Suid-Afrika wat deur die media en staatsamptenare verskaf word is dikwels verwarrend vir ouers. Die doel van hierdie artikel om die regsstatus van tuisonderwys in Suid-Afrika te verduidelik met verwysings na bronne sodat ouers die feite vir hulleself kan verifieer.
The regsituasie is dat internasionale reg, die Suid-Afrikaanse grondwet en die SA Skolewet voorsiening maak daarvoor dat kinders geregistreer kan word vir onderwys tuis. Die praktiese situasie is egter dat baie provinsiale owerhede nie die administratiewe prosesse in plek het om ’n kind te registreer vir tuisonderwys nie.
By die provinsiale owerhede wat wel die administratiewe prosesse in plek het, word die proses geadministreer deur amptenare met min begrip van tuisonderwys self en die regsaspekte van tuisonderwys. Hierdie amptenare vereis dikwels dat ouers moet voldoen aan allerhande vereistes wat nie deur die wet voorgeskryf word nie. As gevolg van hierdie situasie registreer meer as 90% van die ouers nie hulle kinders vir tuisonderwys nie, omdat dit hulle oortuiging is dat dit nie in hulle kinders se belang is om aan die onwettige vereistes te voldoen nie.
Die regsituasie
Die hoogste wet in Suid-Afrika is die grondwet. Die hoeksteen van die grondwet is die Handves van Regte wat in hoofstuk 2 van die grondwet beskryf word. Volgens art. 29(1) van die grondwet het almal in Suid-Afrika die reg op basiese onderwys, insluitende kinders. Dit beteken dat elkeen die reg het om te besluit of hulle basiese onderwys wil ontvang, waar hulle hierdie onderwys wil ontvang en wat die inhoud van hierdie onderwys moet wees.
Kinders is egter nie in staat om hierdie soort besluite vir hulleself te maak nie. Dit is hoekom art. 28(1) van die grondwet stipuleer dat kinders die reg het op ouerlike sorg. Dit beteken dat ouers namens hulle kinders moet besluit oor wat in hulle beste belang is. Hierdie ouerlike sorg sluit ook besluite oor onderwys in. Dit impliseer dat ouers moet besluit watter soort onderwys hulle kinders moet ontvang, skoolonderwys of tuisonderwys.
Wanneer die Handves van Regte geïnterpreteer word, vereis die grondwet in art. 39(1)(b) dat die howe ook internasionale reg moet oorweeg. Een stukkie internasionale reg wat toepaslik is op hierdie situasie is art. 26(3) van die Universele Verklaring van Menseregte, wat stel dat ouers die eerste reg het om die soort onderwys te kies wat hulle kinders moet ontvang. Dit bevestig dat die interpretasie van die grondwet, soos beskryf in die vorige paragraaf, korrek is, en dat ouers dus die grondwetlike reg het om te kies dat hulle kinders hul onderwys tuis ontvang.
Dit impliseer dat slegs ouers die gesag het om te besluit of hulle kinders onderwys tuis of by die skool sal ontvang. Die grondwet stel nie dat staatsamptenare die gesag het om hierdie besluit te maak nie, en dat ouers aan staatsamptenare ’n verduideliking verskuldig is waarom hulle van die oortuiging is dat tuisonderwys is die beste belang van hulle kinders is nie, wanneer ouers kinders registreer vir tuisonderwys. Indien jy die reg het om iets te doen, dan hoef jy nie toestemming te vra om dit te doen nie. Wanneer dit nodig is om toestemming te vra, dan is dit nie ’n reg nie, maar ’n voorreg.
Die media vermeld soms dat ouers ’n aantal dinge moet voorlê wanneer hulle toestemming vra om hulle kinders tuisonderwys te gee. Ouers moet bv. hulle hoogste kwalifikasie vermeld. Nog die grondwet, nog die SA Skolewet skryf voor dat die reg om tuisonderwys vir hulle kinders te kies slegs gegun kan word aan ouers met sekere kwalifikasies. Daarom is daar geen regsgronde om van ouers te verwag om hulle hoogste kwalifikasies voor te le nie. Navorsing het ook herhaaldelik getoon dat die kwalifikasie van die ouers geen invloed het op die sukses van tuisonderwys nie. Daar is dus ook geen opvoedkundige gronde waarom ouers hulle kwalifikasies moet voorlê nie.
Artikels in die media vermeld ook soms dat ouers die kurrikulum moet voorlê wat hulle beplan om te volg. Dit impliseer dat die departement van onderwys die inhoud van die tuisonderwys moet goedkeur, alvorens hulle toestemming kan gee dat ouers tuisonderwys vir hulle kinders kies. Behalwe die feit dat hierdie vereiste nie afgelei kan word van die grondwet of die SA Skolewet nie, het regter Cynthia Pretorius in ’n onlangse hofuitspraak in die Pretoria Hooggeregshof op 25 Maart 2011 bevestig dat die staat se kurrikulum nie bindend is vir onafhanklike skole en ouers wat tuisonderwys gee nie.
Die praktiese situasie
Die SA Skolewet vereis dat ouers hulle kinders moet registreer vir tuisonderwys. Hierdie registrasie moet gedoen word by die provinsiale onderwysdepartement. In die praktyk het meeste provinsiale onderwys departemente egter nie administratiewe vermoëns om kinders te registreer vir tuisonderwys nie.
Sommige van die groter provinsies het beperkte vermoëns om kinders te registreer vir tuisonderwys. Die amptenare wat egter in die hierdie departemente werk het egter ’n baie beperkte begrip van tuisonderwys. Terwyl ouers wat tuisonderwys gee baie intiem betrokke is by hulle kinders se onderwys en presies weet wat hulle kinders kan doen en wat nie, vereis amptenare van die onderwysdepartement van ouers om rekords se hou van bywoning, vordering en assessering. Watter waarde het kabinette vol rekords vir die onderwys aan die kinders? Sodat ma oor 3 jaar kan onthou dat die kinders tuis was op 25 April 2012?
Amptenare het ook ’n beperkte begrip van die wet wat hulle veronderstel is om toe te pas. Alhoewel die grondwet, internasionale reg en hofuitsprake bevestig dat slegs ouers die gesag het om besluite te neem oor die soort onderwys en die inhoud van die onderwys wat hulle kinders gaan ontvang, verwag provinsiale amptenare nog steeds dat ouers kurrikulums moet voorlê vir toestemming. Amptenare tree op asof tuisonderwys ’n voorreg is en nie ’n reg nie.
Op publieke vergadering verwys die amptenare dikwels na “ons” kinders, asof die kinders ook aan hulle behoort, en asof hulle ook gesag het om besluite namens hierdie kinders te neem. Die stelling word dan dikwels gemaak dat dit ‘n hele dorp (village) nodig is om ’n kind op te voed, en die Dept. van Onderwys beskou homself as ’n belangrike deel van hierdie dorp. Die geskiedenis en navorsing bewys egter dat ’n kind nie ’n dorp nodig het om hom op te voed nie, maar slegs toegewyde ouers.
Wat ouers doen
Ouers wat hulle kinders wil registreer vir tuisonderwys by die Department van Onderwys loop die risiko dat daar van hulle verwag sal word om aan allerhande vereistes te voldoen wat nie deur die wet voorgeskryf word nie. Dit is oor hierdie rede dat meer as 90% van ouers hulle kinders nie registreer nie. Tot dusver is nie n enkele tuisskoolouer suksesvol vervolg omdat hulle nie hulle kinders geregistreer het nie.
Ouers wat oorweeg of hulle moet registreer of nie moet die dokument hieroor van die Pestalozzi Trust noukeurig bestudeer.