'n Verenigde Front vir Afrikaanse Onderwys
In die onderwyslandskap van Suid-Afrika is daar publieke skole, privaatskole, tuisonderwys, leersentrums en aanlynskole. Spannings tussen hierdie onderwysvorme veroorsaak ‘n verdeelde front vir Afrikaanse Christelike onderwys. ‘n Organisasie wat die regte en vryhede van al hierdie onderwysvorme beskerm en samewerking aanmoediging kan ‘n verenigde front vorm en ‘n omgewing skep waarin Afrikaanse Christelike onderwys kan floreer.
1. Die huidige onderwyslandskap
Afrikaanse onderwys vind plaas in verskillende onderwysvorme.
1.1. Geteikende publieke skole
Die meeste Afrikaanse onderrrig word deur publieke skole verskaf. Die skole se beheerliggame handhaaf kwaliteit Afrikaanse onderwys en Christelike waardes deur hulle magte te gebruik om taal- en toelatingsbeleide te bepaal. Die BELA Wet teiken egter hierdie skole deur die magte van beheerliggame in te perk, wat hulle vermoë om hul karakter te behou, bedreig.
1.2. Kwesbare privaatskole
Ouers vir wie Christelike en/of Volkseie onderwys belangrik is, kies dikwels privaatskole. Die swaar las van regulatoriese voldoening maak dit egter dikwels duur om sulke skole op te rig en te bedryf. So ’n skool moet aan munisipale bywette voldoen om reg gesoneer te wees, by die provinsie registreer wees en by Umalusi geakkrediteer word. Die BELA Wet verskerp hierdie oorregulasie verder deur die straf vir die bedryf van ’n ongeregistreerde skool tot een jaar tronkstraf te verhoog.
Selfs wanneer ‘n skool geregistreer is, kan owerhede die registrasie maklik terugtrek as die skool in onguns beland by die politieke maghebbers. ’n Bekende voorbeeld is die Curro Roodeplaat skool, wat in 2015 met deregistrasie gedreig is na ’n gerug oor beweerde rassisme versprei is. Selektiewe afdwinging van oorregulering maak privaatskole kwesbaar.
1.3. Bedreigde tuisonderwys
Tuisonderwys, waar ouers self verantwoordelikheid neem vir die onderrig van hulle kinders, is die vinnigste groeiende onderwysvorm. Onlangse navorsing toon dat daar omtrent 300 000 tuisleerders in Suid-Afrika is, waarvan 48,5% se huistaal Afrikaans is.
Die BELA Wet bedreig hierdie onderwysvorm deur universele, voorwaardelike (bv. kurrikulum en assessering) registrasie met kriminele vervolging af te dwing. Dit beperk tuisonderwys verder tot “hoofsaaklik in die omgewing van die leerder se tuiste” en ouers mag slegs tutors , ander ouers of familie slegs te gebruik vir “spesifieke area van die kurrikulum wat die leerder volg”. So word tuisonderwys getransformeer tot onbekostigbare staatsonderwys tuis. Aangesien onderwys ’n Bybelse opdrag is, ervaar baie ouers morele konflik daarmee dat hulle toestemming nodig het om dit te gehoorsaam.
1.4. Onerkende leersentrums en aanlynskole
Leersentrums word dikwels deur oud onderwysers of entrepreneurs bedryf, meestal op bestaande residensiële eiendomme. Omdat hierdie sentrums onderrig aanpas by die behoeftes van leerders, is dit veral geskik vir kinders met spesiale behoeftes. Weens streng en onbuigsame regulatoriese vereistes sukkel baie van hierdie sentrums om as privaatskole te registreer. Daar word geskat dat byna 100 000 leerders in sulke skole is.
Aanlynskole bied onderrig via die internet aan, insluitend leermateriaal, interaktiewe lesse, assessering en individuele ondersteuning. Na raming maak ongeveer 100 000 leerders gebruik van hierdie diens.
Leersentrums en aanlynskole funksioneer in ’n regulatoriese niemandsland. Die BELA Wet maak slegs voorsiening vir groot, staatsbeheerde skole (publiek en privaat) en staatsbeheerde tuisonderwys.
1.5. Beperkte tutordienste
Leerders, beide in skole en tuisonderwys, maak gereeld gebruik van tutors, wat individuele onderrig verskaf om leerders te help om by die kurrikulum te bly, hetsy fisies of aanlyn. Sommige tuisskoolouers gebruik tutors nie net vir ekstra hulp nie, maar vir die volledige kurrikulum. In gevalle waar leerders nie in skole geplaas kan word nie, bied tutorsentrums desperate ouers’n oplossing om onderwys aan hulle kinders te verskaf. Veral in ‘n tyd waar skoolbegrotings besnoei word, word tutors al hoe noodsaakliker. Die BELA Wet beperk egter beide die hoeveelheid onderrig wat tutors mag gee en die plek waar hulle dit mag aanbied.
2. Spannings in die onderwyslandskap
Spanning ontstaan, omdat verskillende onderwysvorme in die onderwyslandskap met mekaar kompeteer vir ’n beperkte aantal leerlinge.
- Privaatskole en publieke skole met lae leerlinggetalle is dikwels negatief oor tuisonderwys. Selfs ’n klein aantal ouers wat in die voedingsgebied van sulke skole tuisonderwys kies, kan die voortbestaan van die skool bedreig. Hierdie antagonisme kan gemeenskappe veral in plattelandse gebiede, verdeel en fragmenteer.
- Vakbonde is negatief oor leersentrums, aanlynskole en tuisonderwys, aangesien dit onderwysers se werksgeleenthede bedreig. Vir geregistreerde onderwysers wat jare lank gestudeer het om kinders te onderrig is dit ’n teer punt as enige ouer dit sommer tuis kan doen.
- Daar is talle voorbeelde van suksesvolle samewerking tussen tuisskolers en skole, veral op die gebied van sport en kultuur. Oorvol publieke skole, veral in die Weskaap en Gauteng is egter soms negatief teenoor tuisleerders of leerders van informele sentrums, wat toelating vra om na ’n publieke skool terug te keer. Daar bestaan ’n vrees dat hierdie leerders nie op standaard is nie, en dat hulle toelating die skool se slaagsyfer negatief kan beïnvloed.
Die spannings in die onderwyslandskap verdeel die verskillende onderwysvorme en maak dit moeilik om ‘n verenigde front vir Afrikaanse onderwys te vorm. Afrikaanse skole word verteenwoordig deur organisasies soos FEDSAS en Solidariteit. Afrikaanse Christelike tuisskolers moet egter saamwerk met anderstalige tuisskolers wat nie hul waardes deel nie om vir die vryheid van tuisonderwys te veg. Geen organisasie veg vir die regte van leersentrums en aanlynskole nie en hulle bly geïsoleer in ‘n regulatoriese niemandsland.
3. Verenig deur te integreer i.p.v. te kompeteer
’n Verenigde front vir Afrikaans onderwys kan slegs gevorm word as die verskillende onderwysvorme integreer in plaas daarvan om met mekaar te kompeteer. Integrasie is egter slegs moontlik as die take sorg en onderwys van mekaar ontbondel kan word.
’n Skool kombineer die take van sorg en onderwys. Eerstens is die skool verantwoordelik vir die toesig en sorg van leerders insluitend hul veiligheid, gesondheid en voeding. Waar gesinne byvoorbeeld nie genoegsame voeding aan hul kinders kan verskaf nie, word dit deur skoolvoedings programme by die skole aangespreek. Tweedens is die skool verantwoordelik vir die verskaffing van onderwys. Die kwaliteit daarvan word verseker deur voorskrewe kurrikulums en die vereiste dat onderwysers gekwalifiseer en geregistreer moet wees.
Ontbondeling skep verskeie nuwe moontlikhede.
- As ouers onbeperk gebruik kan maak van aanlynskole, tutors, familielede of ander ouers met spesifieke kundigheid, kan hulle fokus op toesig en sorg by die huis, terwyl die ander op onderrig fokus. Dit maak kwaliteit onderwys in elke ouerhuis toeganklik.
- Leersentrums kan op toesig en sorg fokus, terwyl hulle tutors of aanlynskole gebruik vironderrig. Dit skep ’n veilige omgewing naby elke ouerhuis en maak kwaliteit onderrig toeganklik vir gesinne waar ouers nie heeldag tuis kan wees nie.
- Skole met lae leerlinggetalle kan die platforms van aanlynskole gebruik om afstandsleerders by skole in te skryf. Dit kan hulle getalle en inkomstes aanvul en so help om gemeenskappete behou. Hierdie oplossing maak dit ook moontlik vir leerlinge wat nie plek kry in oorvol skole van hulle keuse nie, om voort te gaan met hulle onderwys sonder om die skoolstelsel te verlaat . Dit vergemaklik ook hul terugkeer na skool sodra daar plek beskikbaar word in die skool van hulle keuse. Alhoewel hierdie model tydens die pandemie toegelaat is, maak die BELA Wet nie daarvoor voorsiening nie.
4. ’n Verenigde front
Ontbondeling in die onderwyssektor skep nie net nuwe geleenthede nie, maar verander ook onderwysvorme wat tans antagonisties teenoor mekaar is in bondgenote. Hierdie bondgenote kan saamwerk om ’n verenigde front vir Afrikaanse onderwys te vorm.
Ontbondeling vind reeds in die praktyk plaas:
- Publieke en privaatskole eksperimenteer plek plek met die idee van satellietskole om die kapasiteit van oorvol skole te vergroot. Alhoewel die beleid van die onderwysdepartement daarop gemik is om onvolhoubare skole met onvoldoende leerlinge te sluit, is daar heelwat teenstand teen hierdie beleid. Dit kan ’n geleentheid skep om hierdie skole te red deur afstandsleerders in te skryf.
- Aanlynskole groei steeds ondanks ’n gebrek aan erkenning in die regulatoriese raamwerk. Spelers soos Die MOS, Nukleus, Leories Akademie, Kuberskool, Wolkskool en Moria Tuisskool fokus uitsluitlik of Afrikaanse onderwys, terwyl Impaq, Brainline en ander oorwegend Engels is maar ook Afrikaans akkommodeer. Hierdie aanlynskole word gebruik in tuisonderwys, leersentrums en selfs in skole.
- Leersentrums floreer veral in provinsies waar leerlinge nie in oorvol skole geplaas kan word nie en dien dikwels as ’n noodmaatreël. Hoewel baie van hierdie sentrums ’n hoë gehalte diens lewer, is daar ook gevalle waar die noodsituasie uitgebuit word om geld te maak deur ’n substandaard diens te lewer. Van tyd tot tyd is daar oproepe in die media om sulke “onwettige” skole te sluit en provinsiale onderwys departemente wend soms halfhaftige pogings aan om dit af te dwing.
- Tuisonderwys bly groei ondanks die invoering van die BELA Wet. Uit vrees sal meer ouers by die staat registreer vir tuisonderwys terwyl ander onder die radar sal voortgaan. Verdeeldheid oor registrasie is besig om die beweging se politieke invloed te verswak, wat die beweging meer kwesbaar maak.
Aangesien huidige wetgewing nie voorsiening maak vir ontbondelde onderwys nie, hou hierdie onderwysvorme sekere risikos in. Om al hierdie onderwysvorme te laat groei en in ’n verenigde front te kombineer benodig ’n organisasie wat ’n veilige omgewing skep waarin almal kan funksioneer. Hierdie organisasie kan aktiwiteite koördineer sodat hulle saam kan werk aan ’n gemeenskaplike doel: die bevordering van Afrikaanse en Christelike onderwys. Die organisasie beskerm nie net die de facto aktiwiteite van alle betrokkenes nie, maar kan ook deur onderhandeling en litigasie die regulatoriese omgewing verander om dit de jure te maak.
So ‘n organisasie kan befonds word deur ledegelde van skole, tuisskolers, aanlynskole en leersentrums wat bereid is om te betaal vir die gemoedsrus wat dit bied. Hierdie gemoedsrus sluit toegang in tot ‘n noodlyn na ‘n sterk en kundige organisasie wie se doel dit is om hulle regte en vryhede te beskerm.
Comments
Events
Legal & Research
Centres
Homeschool ABC
Support
Curriculums
Dynamic Learning - MATHS
Dynamic Learning offers Mathematics video tutorials for grades ...
Sunrise readers: From pre-reading ...
Parents and educators - these popular reading books with an ...
GED through Learnalot - Grade 12 ...
Why enrol with Learnalot? With Learnalot, you have the flexibility ...
Has no content to show!