Daar is konsensus dat die standaard van onderwys in Suid-Afrika veel te wense oorlaat, soos onlangs bevestig deur prof. Jonathen Jansen. Hierdie swak prestasie kan nie toegeskryf word aan ’n tekort aan geld nie. As ’n persentasie van Bruto Binnelandse Produk spandeer Suid-Afrika 5.4% aan onderwys, terwyl die gemiddeld van die wêreld 4.7% is. Al hierdie geld wat aan onderwys gespandeer word kom uit die belastingbetaler en die ouers se sak. Ouers wat hulle kinders na ’n redelike goeie staatskool of ’n privaat skool wil stuur moet groot bedrae opdok. Volgens Discovery Invest gaan ouers van ’n kind wat vanjaar met gr. 1 in ’n private skool begin het, l na raming meer as R1 miljoen nodig hê vir hom of haar om laer- en hoërskool en tersiêre onderrig te voltooi.
Al die groot politieke partye erken dat onderwys in Suid-Afrika in ’n krisis is. Almal van hulle stel voor om nog meer geld te bele in die mislukte onderwysstelsel, en nie een stel voor om die stelsel te vervang met iets wat 'n rekord van sukses het nie.
In die begrotingsrede van 2011 het Me. Angie Motshekga, Minister van Basiese onderwys uiteengesit wat sy gaan doen om onderwys te verbeter:
- Die oorhoofse begroting van die 2011/12 finansiële jaar het toegeneem van R6.369 miljard tot R13.868 miljard. Dit is ’n verhoging van 85%.
- Die matriekslaagsyfer gaan verhoog word.
- ’n Nuwe Nasionale Kurrikulum en Assesseringsbeleid (CAPS) gaan ingevoer word vanaf 2011.
- Dit word beplan om ’n hoëvlak beplannings en oorsig eenheid te stig wat gaan fokus op die aflewering van die kurrikulum.
- Die aankope van handboeke gaan gesentraliseer word.
Anton Aberts van die VFPlus stel die volgende oplossing voor : “In die eerste plek moet onderwys gedepolitiseer word. Onderwys magte moet afwentel na gemeenskapsvlak, terselfdertyd moet die regering sy rol behou as hulpbron. Heelwat nuwe skole moet gebou word op grond van demografiese gegewens wat behoeftes aandui binne kultuur – en taal verband. Onderwysers moet ook beter vergoed word, terwyl die opleidingsvlak van onderwysers verhoog moet word. Onderwysers wat nie die hoë standaard by die werksplek nastreef nie, moet gedissiplineer word.”
Die Demokratiese Alliansie stel voor dat daar meer skole gebou moet word, dat skole en onderwysers wat swak presteer meer gemonitor moet word en die nasionale assessering van leerlinge in graad 3,6 en 9.
Die oplossings van die verskillende partye verskil wanneer dit kom by die besonderhede, maar stem grootliks ooreen wat betref die breë trekke. Die oplossings van die politici oor die algemeen kan soos volg opgesom word:
- Die staatskoolmodel moet behou word.
- Daar moet nog meer geld op hierdie staatskoolmodel gespandeer word.
- Die toesig en beheer oor skole en onderwysers moet vermeerder word.
Iets fundamenteel is dus fout in die onderwys. Ouers en belastingbetalers moet al hoe meer betaal vir publieke skole, maar die kwaliteit van die onderwys wat hulle kry raak al hoe swakker. Hierdie tendens is al vir dekades die geval, nie net in Suid-Afrika nie, maar oraloor die wêreld. Tog is politici eensgesind daaroor dat die staatskoolmodel behou moet word en daar nog meer geld aan die staatskoolmodel gespandeer moet word. Die oplossing van Suid-Afrikaanse politici is dus om meer geld te spandeer aan ’n onderwysmodel met ’n rekord van mislukking.
Vir dekades lank spandeer die regering elke jaar meer aan onderwys en elke jaar gaan die onderwys verder agteruit. Ouers sit met kinders wat elke jaar ouer word en kan nie bekostig om te hoop dat nog verdere spandering uiteindelik die probleme gaan oplos nie. Daarom is ouers toenemend besig om hulle kinders te onttrek uit die publieke skole en te kies vir tuisonderwys en privaatskole. Hierdie vorm van onderwys het ’n bewese rekord van sukses.
Alhoewel privaatskole oorwegend kwaliteit onderwys gee, is hulle dikwels te duur en te vêr vir baie ouers. Dit is om hierdie redes wat tuisonderwys toenemend gewild word. Tuisonderwys soos die wet dit omskryf is onderwys wat die kinders in hulle eie huis ontvang. Baie ouers kies vir hierdie vorm van onderwys aangesien dit ‘n bewese rekord van sukses het en ook omdat dit gesond is vir gesinsverhoudings en ook aan die gesin baie vryheid gee.
Vir sommige ouers is dit egter moeilik om hulle eie kinders tuis onderwys te gee en hierdie ouers kies vir (meestal) klein leersentrums wat bedryf word deur ’n klein groepie entrepreneurs, ouers, oud-onderwysers of vrywilligers. Tuisskole, mikroskole, huisskole, hulpsentrums, ongeregistreerde privaatskole, lae-tariefskole ens. ens. is almal verskillende terme wat gebruik word vir hierdie sterk groeiende nuwe verskynsel in die Suid-Afrikaanse onderwysomgewing. Hierdie leersentrums werk dikwels op so ’n wyse dat dit beskryf kan word as tuisonderwys in groepsverband. Hierdie verskynsel in onlangs erkenning gegee in 'n navorsingsverslag van die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming. Hierdie verslag beskryf hierdie verskynsel as verskuilde bates van Suid-Afrika.
Dit is jammer dat politici geen erkenning gee aan die vorme van onderwys wat sterk groei en ’n bewese rekord van sukses het nie. Die politici kies ongelukkig om nog meer van die belastingbetaler se geld te belê in ’n duur onderwysmodel met ’n rekord van mislukking. Dit is daarom belangrik dat tuisskolers elke moontlike forum moet gebruik om die dwaasheid van die keuses van die politici uit te wys en beter alternatiewe voor te stel. Ouers moet vra waarom hulle belasting moet betaal vir nog belegging in ’n onderwysmodel met ’n rekord van mislukking, terwyl die onderwysmodel met ’n rekord van sukses geen ondersteuning kry nie.