Leendert van Oostrum skryf in die Desember 2013 nuusbrief van die Pestalozzi Trust ’n artikel met die titel : “Onweerswolke dreig vir tuisonderwys”. Hiervolgens het die fenomenale groei van tuisonderwys in Suid-Afrika oor die laaste 20 jaar die aandag getrek van die staat, vakbonde en groot beleggers. Dit lyk of hierdie partye begin saamwerk om meer beheer oor tuisonderwys te kry. As ouers niks doen nie, en hierdie samewerking slaag, sal ouers die vryheid verloor om hulle tuisonderwys aan te pas aan die behoeftes van hulle kinders, en sal tuisonderwys vir meeste ouers onbekostigbaar word. Om hierdie kommerwekkende ontwikkelinge te stop moet ouers ingelig bly en tuisonderwys organisasies ondersteun.
Die fenomenale groei van tuisonderwys
Volgens die artikel was daar in 1994 ongeveer 50 tuisskolers in Suid-Afrika. In 2011 was tuisonderwys vir die eerste keer ingesluit in die sensus. Volgens hierdie sensus was daar in 2011 reeds 57 000 tuisskolers.
Die syfer van 57 000 impliseer dat daar ongeveer 130 leë skole ontstaan het en 2000 potensiële onderwysposte vakant geword het. Indien die gemiddelde tuisskoolgesin ongeveer R6000 per jaar spandeer aan tuisonderwys, is dit ’n mark van ongeveer 342 miljoen rand. Hierdie soort syfers trek die aandag van die drie-party alliansie van die staat, vakbonde en beleggers, wat begin aksies onderneem om hulle belange te bevorder in die tuisonderwyssektor.
Belange van die staat
Die regering het ’n belang by onderwys, aangesien die regering wil verseker dat die inhoud van die onderwys van so ’n aard is dat die volgende generasie sal stem vir die huidige regering. Dit is hieroor dat daar sedert 2002 ’n Nasionale Kurrikulum (en nou CAPS) ingevoer is, met ’n sterk klem op waardes. As daar ’n sterk groeiende 57 000 tuisleerders is wat nie onderrig word in die waardes van die staatskurrikulum nie, maar waardes van hulle ouers ontvang, dan is dit ’n bedreiging vir die regering. Volgens die artikel het die Departement van Basiese Onderwys (DvBO) die laaste 20 jaar niks daadwerkliks gedoen om beheer oor tuisonderwys uit te oefen nie, maar in Mei 2013 is daar vir die eerste keer 3 poste geadverteer vir senior amptenare om beleid oor tuisonderwys te formuleer.
Die vermoede dat die DvBO wil begin beheer uitoefen oor tuisonderwys is in Januarie 2014 bevestig toe vraelyste uitgestuur is na organisasies wat produkte en dienste verskaf aan tuisskolers.
Belange van vakbonde
2000 potensiële onderwysposte wat nie gevul kan word deur lede van die onderwyservakbond nie is ’n bron van kommer vir ‘n vakbond. Vakbonde het ’n belang daarby dat tuisonderwys onder beheer gebring word om te verseker dat onderwysers ook ’n rol te speel het in die tuisonderwyssektor.
Om die rede meen van Oostrum dat dit veelseggend is dat SAKAI opgerig is op inisiatief van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU), ’n onderwyservakbond, en bedryf word vanuit die kantore van die SAOU. As antwoord op ’n vraag in die parlement het die minister van onderwys ook uitgespreek dat sy SAKAI sien as die instelling wat verantwoordelik is vir die assessering van tuisskolers.
Belange van beleggers
Die mark vir tuisonderwys is ’n sterk groeiende mark wat groot genoeg raak vir groot beleggers om van kennis te neem. Dit is egter ook ’n mark waar daar baie kompetisie is met baie spelers wat ’n groot verskeidenheid produkte en dienste verskaf. Dis ook moeilik om die mark te bereik, aangesien tuisskolers nie geregistreer is by ’n enkele instansie nie. Hierdie situasie maak dit moeilik vir besighede om groot winste uit tuisonderwys te maak.
Plaaslike asook internasionale maatskappye het begin aandele koop in ’n afstandsonderrig besighede waarvan tuisskolers gebruik maak. Beleggers wat groot geld belê in tuisonderwys sou graag wou hê dat hierdie mark meer beheer word om beleggings te beskerm teen kompetisie en om dit makliker te maak om hulle teikenmark te bereik.
Wie kyk na die belange van kinders?
Uit die geskiedenis is dit duidelik dat nog die staat, nog vakbonde nog groot besighede die belange van kinders op die hart dra. Onderwys wat deur die staat verskaf word is deurgaans uiters swak en bereik elke jaar nuwe laagtepunte. Dit is dus nie in die belang van kinders dat die staat betrokke is in tuisonderwys nie. Leendert van Oostrum wys uit dat die geskiedenis toon dat die belange van kinders vir vakbonde sekondêr is en tweede viool moet speel by die belange van onderwysers. Vakbonde soos die SAOU het kort voor die matriekeksamen gestaak vir hoër lone. Wanneer groot besighede die mark oorheers in ’n mark waar die staat slegs ’n beperkte hoeveelheid gelisensieerde spelers toelaat, kan ouers maar weet dat hulle hoë pryse en swak diens kan verwag, soos wat die geval is by banke en telekommunikasie in Suid-Afrika.
Wanneer die drie-party alliansie van die staat, vakbonde en groot beleggers beheer oor tuisonderwys kry, gaan dit niks goeds vir kinders beteken nie. Die belange van kinders kan slegs bevorder word wanneer onderwys onder die beheer van ouers is, en ouers vrye keuse het om die beste vir hulle kinders te kies uit ’n groot verskeidenheid produkte en dienste.
Hoe gaan die drie-party alliansie tuisonderwys beheer?
Sommiges is van van mening dat ouers nie bekommerd hoef te wees oor staatsinmenging in tuisonderwys nie, weens die staat se gebrekkige administratiewe vermoë veroorsaak deur oneffektiwiteit en korrupsie. Die geskiedenis van die laaste 20 jaar bevestig dat dit die geval is. Die geskiedenis leer egter ook dat dit anders werk wanneer die staat saamwerk met vakbonde en beleggers.
In die verlede was dit byvoorbeeld vir die staat baie moeilik om akkurate rekords te hou van burgers se adresse en telefoonnommers. Burgers het selde vir die Dept. van Binnelandse sake laat weet as hulle van adres verander. Hierdie gebrek aan inligting het dit moeilik gemaak om burgers te beheer. Vir ’n verskeidenheid redes het die staat besluit om o.a. die finansiële -en -telekommunikasie sektor streng te reguleer. Slegs ’n beperkte hoeveelheid gelisensieerde organisasies is op streng voorwaardes toegelaat om dienste te verskaf in hierdie sektore. Groot spelers het die regulering verwelkom, omdat dit hulle beskerm teen ‘n groot hoeveelheid kompetisie. Van die lisensievoorwaardes wat oor die laaste dekade toegevoeg is, is die FICA en RICA wetgewing. Hierdie wetgewing dwing dan privaatorganisasies om namens die staat akkuraat rekords te hou van burgers se adresse en telefoonnommers. So gebruik die staat die privaatsektor om administrasie namens hom te doen.
Volgens ‘n verklaring van die Departement van Onderwys was daar in 2013 slegs 3019 geregistreerde tuisleerders. Dit beteken dat ongeveer 96% van alle tuisleerders nie geregistreer is nie. Tans het die staat nie die administratiewe vermoë om hierdie groot hoeveelheid tuisleerders te registreer nie.
Op ’n soortgelyke wyse as in die finansiële -en -telekommunikasie sektor sou die staat kon bepaal dat slegs ’n beperkte aantal gelisensieerde organisasies opvoedkundige dienste aan tuisskolers mag verskaf, met die oënskynlike doel om ouers teen “uitbuiting” te beskerm en minimum standaarde te handhaaf. Een van die lisensievoorwaardes is dan dat hierdie organisasies hulle dienste slegs mag verkoop aan ouers wat bewys lewer hulle kinders geregistreer is by die onderwysdepartement. Verder word voorgeskryf dat tuisleerders slegs kurrikulummateriaal vir ’n sekere graad mag kry indien die tuisleerder geassesseer is deur SAKAI vir die vorige graad. Op hierdie wyse kan die Dept. van Onderwys tuisleerders te dwing om te registreer en die staatskurrikulum te volg. SAKAI kan werkgeleenthede skep vir onderwysers en die kompetisie in die tuisonderwyssektor word beperk, en beleggers kan groot winste maak.
Hierdie soort samewerking tussen die staat en beleggers is nie so vêrgesog as wat ouers dink nie. In die VSA is daar tans omstredenheid daaroor dat die welsynarm van Microsoft die Amerikaanse Regering help met die invoering van “Common Core”, wat iets soortgelyk is aan CAPS (Nasionale Kurrikulum -en -Asseseringsraamwerk) in Suid-Afrika. Kliek hier om ’n video hieroor te sien. Deur hierdie samewerking hoop Microsoft om groot winste te maak in die onderwyssektor.
Wat kan ouers doen om tuisonderwys vryheid te behou?
Die Pestalozzi Trust het die samewerking van die drie-party alliansie as ’n wesenlike bedreiging vir tuisonderwys geïdentifiseer. Hierdie bedreiging kan slegs die hoof gebied word indien ouers ingelig bly met onafhanklike inligting en betrokke raak by die Tuisonderwysverenigings en die Pestalozzi Trust. As baie ouers deur hierdie organisasies saamwerk kan hulle die beskikbare demokratiese middele effektief aanwend om die belange van hulle kinders en kleinkinders te bevorder.
Ouers kan ingelig bly met onafhanklike inligting op een of meer van die volgende wyses:
- Sluit aan by die webwerf van die Vereniging vir Tuisonderwys
- “Like” die Facebook Bladsy van die Vereniging vir Tuisonderwys
- Volg die Vereniging op Twitter met die naam @sahomeschoolers
- Laai die “sahomeschoolers” App af op u selfoon (beskikbaar op Apple App Store en Android Google Play)
Ouers kan aansluit by tuisonderwys organisasies:
- Sluit aan by die Tuisonderwys Vereniging in jou provinsie om tuisskoolouers se belange te verteenwoordig.
- Sluit aan by die Pestalozzi Trust om jou te beskerm teen onregmatige inmenging in jou tuisonderwys.
Baie ouers meen dat hulle veilig is indien hulle ’n lae profiel handhaaf. Hulle is nie deel van enige poslyste of Facebook groepe nie en sluit nie aan by enige tuisonderwysorganisasie nie. So ’n benadering kan vir ’n tyd lank werk, omdat sulke gesinne moeiliker is om op te spoor. Daar is egter altyd bure of familie wat weet dat hierdie gesin tuisonderwys gee. As hierdie gesin dan probleme optel met bure of familie, dan kan hulle die gesin anoniem gaan aanmeld by welsyn of die onderwysdepartement. Dan staan daardie gesin alleen. Hulle weet nie hoe om die situasie te hanteer nie, en niemand kan hulle help nie, en hulle word verbied om tuisonderwys te gee. Volgens Leendert van Oostrum het ervaring oor die laaste 40 jaar geleer dat dit juis die gesinne is wat nie inskakel by tuisonderwysorganisasies nie, wat die kwesbaarste is.
Dit was danksy die samewerking van ’n klein hoeveelheid toegewyde ouers aan veldtog van die Vereniging van Tuisonderwys saam met die Tuisonderwysvereniging in die VSA in 1994 dat daar voorsiening gemaak is vir tuisonderwys in die SA Skolewet. As 50 tuisskolers in 1994, sonder die Internet en sosiale media, so ’n verskil kon maak, hoeveel te meer sal 57 000 nou ’n verskil kan maak?