Die meeste tuisskolers tuisskool juis omdat hulle moeg is vir al die leuens waarmee hulle gevoer is.
Oor die jare het ek daaraan gewoond geraak dat onderwysamptenare vir mens vertel "die wet sê" terwyl daar geen wet is wat sê wat hulle beweer nie. Meesal is dit ander owerheidsdokumente soos beleidsbepalings, prosedurevoorskrifte, of soms selfs 'n stukkie papier wat die amptenaar self opgetrek het, waarvan nie een regtens afdwingbaar is nie.
Mens se natuurlike reaksie is om maar te aanvaar dat die amptenare self nie weet wat die wet in werklikheid sê nie.en maar net probeer om hul werk op so 'n wyse te doen dat hulle hul "teikens" kan haal met die minste moeite. (Navorsing toon inderdaad dat die meeste amptenare swak indien enigsins bekend is met die wet wat hulle veronderstel is om toe te pas. Hierdie verskynsel is dan ook aangetoon as die primêre oorsaak van skendings van fundamentele regte.)
Ek vertel nou hiervan want ek moes die afgelope drie weke driemaal sien hoe drie verskillende mense wat NIE owerheidsamptenare is nie, maar 'n leidende posisie in die tuisonderwysgemeenskap inneem of nastreef, presies dieselfde ding doen.
Mens kan net vermoed waarom hulle dit doen, want wat hulle openlik verklaar is dat dié dinge wat hulle "die wet" noem, "in belang van die kinders" is of "die regte ding om te doen" of iets dergliks.
In die proses neem hulle (soms subtiel, soms blatant) 'n posisie van morele meerderwaardigheid in, en stel hulle op teenoor mense ander wat, by implikasie, nie die belange van die kinders op die hart dra nie.
Maar dit maak nie regtig saak waarom mense wanvoorstellings van die wet gee nie. Wat saak maak, is dat dit leuens is.
En leuens is juis die ding waarvan mense wegvlug na tuisonderwys. Die leuens en valse beloftes van amptenare en beroepsonderwysers en, les bes, ook van sommiges wat goedere en dienste aan tuisskolers smous.
Mense wat valse voorstellings maak van wat "die wet" is, en eis dat wetsgehoorsame burgers hulle daaraan onderwerp, is self die wetsverbrekers.
Deur die jare het ek met vele wetgewers en amptenare saamgewerk en probeer saamwerk. Die een ding wat ek in die proses geleer het is dat daar net een basis is waarop tuisskolers met die owerheid kan saamwerk, en dit is dat albei partye hulself streng aan die wet hou en binne die grense van die wet optree.
Soos die grondwet inderdaad vereis.
Wanneer amptenare, daarenteen, buite hul magte optree onder die valse voorwendsel dat hulle "die wet" toepas, maak hulle dit juis onmoontlik vir tuisskolers om te voldoen aan wat die wet werklik van hulle vereis.
Daarom vermy 95% van alle tuisskolers die owerheid en registreer nie by die onderwysdepartemente nie.
Baie mense wat sulke valse voorstellings maak van wat "die wet sê" glo werklik dat die dinge wat hulle beweer "wet" is, goeie dinge is en die beste is vir kinders. Hulle meen skynbaar dat dit geregverdig is om 'n valse morele meerderwaardigheid te beoefen deur valse voorstellings te maak, ten einde sake te bevorder wat volgens hul mening goed is vir kinders.
Hul goeie bedoelings regverdig egter nie hul leuens nie.
Inteendeel - hulle ondergrawe net hul eie geloofwaardigheid.
Is die inherente meriete van hul saak dan so swak dat hulle wanvoorstellings moet maak om dit die skyn van gesag te gee?
[Hierdie artikel is geskryf deur Leendert van Oostrum en op 23 Aug. gepubliseer op die “Tuisonderwys” poslys]