Dit lyk of die toestand van die moderne gesin toenemend aandag in die media ontvang. In Mei 2011 het Solidariteit Helpende Hand ‘n verslag vrygestel oor die Afrikaanse gesin.
In April 2011 het die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings (SAIR) ’n verslag vrygestel oor die risiko’s wat jongmense loop wat opgroei in ’n land waar dit ’n voorreg is om groot te word in ’n gesin met twee ouers. Een van die belangrikste bevindings van die verslag is dat kinders wat opgroei in ’n gesin sonder ’n vader ’n groter waarskynlikheid het om in hulle opvoeding te faal en anti sosiale gedrag te vertoon, as kinders wat grootword in ’n gesin met twee ouers. Die verslag van die SAIR word bevestig deur ’n navorsingverslag van United Families wat bevind dat kinders wat opgroei in ’n gesin met ’n vader en ’n moeder wat getroud is, beter vaar oor ’n spektrum van ekonomiese, sosiale, opvoedkundige en emosionele aspekte as kinders wat in ander soorte gesin opsette opgroei. Dis byna gewaarborg dat buite-egtelike kinders ’n lewe van armoede, lae opvoeding en lae prestasie gaan lei.
Dis veral die afwesigheid van vaders wat as ’n groot probleem in die moderne gesinslewe beskou word. Navorsing wat in Kanada gepubliseer is, het bevind dat kinders wat opgroei in ’n gesin waar die vader aktief betrokke is in die lewens van die kinders, hulle gemiddeld beter presteer in IK-toetse en ook minder gedragsafwykings toon. Ook hier plaaslik skryf Jonathan Jansen in ’n artikel dat die optrede van Julius Malema toegeskryf kan word aan die afwesigheid van ’n vader in sy lewe. Hy stel dit soos volg : “Alle jong mans leer van vaderfigure. Malema leer onbeheerstheid. Hy leer dat die politiek moraliteit kan neutraliseer. Hy leer dat geraas redelikheid kan uitdoof en dat woede bewyse tot onsin kan maak.”
Indien hierdie navorsing in ag geneem word, is dit ironies dat gesonde tuisskool gesinne gereeld gekonfronteer word met die vraag : “Maar wat van sosialisering?”, terwyl enkelouers wat hulle kinders na ’n vervallende staatskool stuur selde met hierdie vraag gekonfronteer word.
Al hierdie navorsing bevestig dat die beste ding wat ouers vir hulle kinders kan doen, is om hulle kinders te laat opgroei in ’n stabiele en gesonde gesin. Baie ouers kies vir tuisonderwys, omdat bydra tot die versterking van gesinsbande. Dit op sigself gee aan tuisleerders ’n voorsprong, selfs al word al die opvoedkundige voordele nie in ag geneem nie.