By Debbie van der Eems on Friday, 10 January 2025
Category: Blog

'n Verenigde Front vir Afrikaanse Onderwys

In die onderwyslandskap van Suid-Afrika is daar publieke skole, privaatskole, tuisonderwys, leersentrums en aanlynskole. Spannings tussen hierdie onderwysvorme veroorsaak ‘n verdeelde front vir Afrikaanse Christelike onderwys. ‘n Organisasie wat die regte en vryhede van al hierdie onderwysvorme beskerm en samewerking aanmoediging kan ‘n verenigde front vorm en ‘n omgewing skep waarin Afrikaanse Christelike onderwys kan floreer.

1. Die huidige onderwyslandskap

Afrikaanse onderwys vind plaas in verskillende onderwysvorme.

1.1. Geteikende publieke skole

Die meeste Afrikaanse onderrrig word deur publieke skole verskaf. Die skole se beheerliggame handhaaf kwaliteit Afrikaanse onderwys en Christelike waardes deur hulle magte te gebruik om taal- en toelatingsbeleide te bepaal. Die BELA Wet teiken egter hierdie skole deur die magte van beheerliggame in te perk, wat hulle vermoë om hul karakter te behou, bedreig.

1.2. Kwesbare privaatskole

Ouers vir wie Christelike en/of Volkseie onderwys belangrik is, kies dikwels privaatskole. Die swaar las van regulatoriese voldoening maak dit egter dikwels duur om sulke skole op te rig en te bedryf. So ’n skool moet aan munisipale bywette voldoen om reg gesoneer te wees, by die provinsie registreer wees en by Umalusi geakkrediteer word. Die BELA Wet verskerp hierdie oorregulasie verder deur die straf vir die bedryf van ’n ongeregistreerde skool tot een jaar tronkstraf te verhoog.

Selfs wanneer ‘n skool geregistreer is, kan owerhede die registrasie maklik terugtrek as die skool in onguns beland by die politieke maghebbers. ’n Bekende voorbeeld is die Curro Roodeplaat skool, wat in 2015 met deregistrasie gedreig is na ’n gerug oor beweerde rassisme versprei is. Selektiewe afdwinging van oorregulering maak privaatskole kwesbaar.

1.3. Bedreigde tuisonderwys

Tuisonderwys, waar ouers self verantwoordelikheid neem vir die onderrig van hulle kinders, is die vinnigste groeiende onderwysvorm. Onlangse navorsing toon dat daar omtrent 300 000 tuisleerders in Suid-Afrika is, waarvan 48,5% se huistaal Afrikaans is.

Die BELA Wet bedreig hierdie onderwysvorm deur universele, voorwaardelike (bv. kurrikulum en assessering) registrasie met kriminele vervolging af te dwing. Dit beperk tuisonderwys verder tot “hoofsaaklik in die omgewing van die leerder se tuiste” en ouers mag slegs tutors , ander ouers of familie slegs te gebruik vir “spesifieke area van die kurrikulum wat die leerder volg”. So word tuisonderwys getransformeer tot onbekostigbare staatsonderwys tuis. Aangesien onderwys ’n Bybelse opdrag is, ervaar baie ouers morele konflik daarmee dat hulle toestemming nodig het om dit te gehoorsaam.

1.4. Onerkende leersentrums en aanlynskole

Leersentrums word dikwels deur oud onderwysers of entrepreneurs bedryf, meestal op bestaande residensiële eiendomme. Omdat hierdie sentrums onderrig aanpas by die behoeftes van leerders, is dit veral geskik vir kinders met spesiale behoeftes. Weens streng en onbuigsame regulatoriese vereistes sukkel baie van hierdie sentrums om as privaatskole te registreer. Daar word geskat dat byna 100 000 leerders in sulke skole is.

Aanlynskole bied onderrig via die internet aan, insluitend leermateriaal, interaktiewe lesse, assessering en individuele ondersteuning. Na raming maak ongeveer 100 000 leerders gebruik van hierdie diens.

Leersentrums en aanlynskole funksioneer in ’n regulatoriese niemandsland. Die BELA Wet maak slegs voorsiening vir groot, staatsbeheerde skole (publiek en privaat) en staatsbeheerde tuisonderwys.

1.5. Beperkte tutordienste

Leerders, beide in skole en tuisonderwys, maak gereeld gebruik van tutors, wat individuele onderrig verskaf om leerders te help om by die kurrikulum te bly, hetsy fisies of aanlyn. Sommige tuisskoolouers gebruik tutors nie net vir ekstra hulp nie, maar vir die volledige kurrikulum. In gevalle waar leerders nie in skole geplaas kan word nie, bied tutorsentrums desperate ouers’n oplossing om onderwys aan hulle kinders te verskaf. Veral in ‘n tyd waar skoolbegrotings besnoei word, word tutors al hoe noodsaakliker. Die BELA Wet beperk egter beide die hoeveelheid onderrig wat tutors mag gee en die plek waar hulle dit mag aanbied.

2. Spannings in die onderwyslandskap

Spanning ontstaan, omdat verskillende onderwysvorme in die onderwyslandskap met mekaar kompeteer vir ’n beperkte aantal leerlinge.

Die spannings in die onderwyslandskap verdeel die verskillende onderwysvorme en maak dit moeilik om ‘n verenigde front vir Afrikaanse onderwys te vorm. Afrikaanse skole word verteenwoordig deur organisasies soos FEDSAS en Solidariteit. Afrikaanse Christelike tuisskolers moet egter saamwerk met anderstalige tuisskolers wat nie hul waardes deel nie om vir die vryheid van tuisonderwys te veg. Geen organisasie veg vir die regte van leersentrums en aanlynskole nie en hulle bly geïsoleer in ‘n regulatoriese niemandsland.

3. Verenig deur te integreer i.p.v. te kompeteer

’n Verenigde front vir Afrikaans onderwys kan slegs gevorm word as die verskillende onderwysvorme integreer in plaas daarvan om met mekaar te kompeteer. Integrasie is egter slegs moontlik as die take sorg en onderwys van mekaar ontbondel kan word.

’n Skool kombineer die take van sorg en onderwys. Eerstens is die skool verantwoordelik vir die toesig en sorg van leerders insluitend hul veiligheid, gesondheid en voeding. Waar gesinne byvoorbeeld nie genoegsame voeding aan hul kinders kan verskaf nie, word dit deur skoolvoedings programme by die skole aangespreek. Tweedens is die skool verantwoordelik vir die verskaffing van onderwys. Die kwaliteit daarvan word verseker deur voorskrewe kurrikulums en die vereiste dat onderwysers gekwalifiseer en geregistreer moet wees.

Ontbondeling skep verskeie nuwe moontlikhede.

4. ’n Verenigde front

Ontbondeling in die onderwyssektor skep nie net nuwe geleenthede nie, maar verander ook onderwysvorme wat tans antagonisties teenoor mekaar is in bondgenote. Hierdie bondgenote kan saamwerk om ’n verenigde front vir Afrikaanse onderwys te vorm.

Ontbondeling vind reeds in die praktyk plaas:

Aangesien huidige wetgewing nie voorsiening maak vir ontbondelde onderwys nie, hou hierdie onderwysvorme sekere risikos in. Om al hierdie onderwysvorme te laat groei en in ’n verenigde front te kombineer benodig ’n organisasie wat ’n veilige omgewing skep waarin almal kan funksioneer. Hierdie organisasie kan aktiwiteite koördineer sodat hulle saam kan werk aan ’n gemeenskaplike doel: die bevordering van Afrikaanse en Christelike onderwys. Die organisasie beskerm nie net die de facto aktiwiteite van alle betrokkenes nie, maar kan ook deur onderhandeling en litigasie die regulatoriese omgewing verander om dit de jure te maak.

So ‘n organisasie kan befonds word deur ledegelde van skole, tuisskolers, aanlynskole en leersentrums wat bereid is om te betaal vir die gemoedsrus wat dit bied. Hierdie gemoedsrus sluit toegang in tot ‘n noodlyn na ‘n sterk en kundige organisasie wie se doel dit is om hulle regte en vryhede te beskerm.

Related Posts