Verlede week is prof. Asmal, voormalige minister van onderwys oorlede. Van alle kante is daar hulde gebring aan hom. Deur sommige word hy beskryf as : “He was a towering intellectual, great champion of human rights and unswerving in his commitment to the liberation of South Africa.” Baie kan egter nie hierdie entoesiasme oor prof. Asmal deel nie.
In 2001 maak die minister van onderwys, prof. Kader Asmal die volgende uitspraak : “No. I've always believed in a unitary school system, like the German system, but the Constitution says there will be private schools so I have no problem with them. There are many private schools with a Cambridge examination which I have problems with. It's based entirely on an English syllabus, and we're trying to create a South African school system with values that are truly South African.” As dit dus van prof. Asmal afgehang het, dan sou daar geen privaat skole of tuisonderwys in Suid-Afrika toegelaat word nie. Prof. Asmal is op rekord dat hy glo aan ’n onderwysstelsel wat onder die beheer van die staat is, terwyl die universele verklaring van menseregte stel : “Parents have a prior right to choose the kind of education that shall be given to their children.”
Ouers wat betrokke was by privaat onderwys en tuisonderwys sal prof. Asmal onthou as die persoon wat die hersiene nasionale kurrikulum op ’n ondeursigtige en onderduimse wyse deurgedruk het, ondanks die besware van duisende ouers. Kliek hier om ’n oorsig te lees oor hierdie stukkie geskiedenis. Sy standpunt oor privaat onderwys en tuisonderwys, asook sy hantering van die invoering van die kurrikulum dui daarop dat prof. Asmal geen vriend is van die vryheid van ouers om die beste opvoeding vir hulle kinders te kies nie.
Prof. Kader Asmal is ook verantwoordelik vir die invoering van uitkomsgebaseerde onderwys in Suid-Afrika sedert 1998. Hierdie vorm van onderwys word nou algemeen beskou as ’n mislukking en gaan vanaf 2012 vervang word met ’n kurrikulum wat nie van hierdie benadering gebruik gaan maak nie. In artikels met opskrifte soos “Youth sacrificed for OBE” word gerapporteer dat miljoene kinders uit die skole uitgeval het en nie kan lees of skryf nie. Watter invloed het dit gehad op die vooruitgang van Suid-Afrika? Wanneer daar egter hulde gebring moet word aan die minister wat mede verantwoordelik is vir hierdie tragedie, dan word dit gemakshalwe vergeet.